Saturday, September 29, 2018

Wie se julle is ek? Jesus die Dienskeg.



Elk van die vier evangelies het ’n hooftema van hoe hulle Jesus uitdruk.
Mattheus – Jesus as Koning.
Lukas – Jesus as Seun van die mens.
Markus – Jesus as Dienskneg.
Johannes – Jesus as God.

Markus begin sommer dadelik Jesus aan ons verduidelik, as die een wat wil betrokke raak in mense se lewens.
Lees Mark 1 tot 8 die week en beleef hoe Jesus die mense kom dien het.

In Mark 9 en 10 word die tema van die boek vasgemaak.
In die begin van Mark 9 bevestig God met n hoorbare stem uit die hemel dat Jesus Sy geliefde Seun is.
Mark 9:7 Daarna het ’n wolk hulle oordek en ’n stem het uit die wolk gesê: “Hý is my Seun, die Een wat Ek liefhet. Doen wat Hy vir julle sê.”

Dan kom Jesus en verduidelik dat Hy as Seun van God gekom het om te dien.

Mark 9:12 Hoe staan daar dan oor My, die Seun van die Mens, geskryf dat Ek baie moet ly en verneder moet word?

Die beginsel van diensbaarheid word in die harte van die dissipels vasgemaak.

Les 1.  Streef diensbaarheid na eerder as posisie.
Mark 9: 33 Hulle het toe in Kapernaum aangekom. In die huis waar hulle sou oorbly, vra Hy sy dissipels: “Waaroor het julle op pad geredeneer?” 34  Hulle bly toe stil, want hulle het mekaar langs die pad aangevat oor wie van hulle die belangrikste is.
35 Daarop gaan sit Jesus en roep die twaalf na Hom toe. Toe sê Hy vir hulle: “As jy die vernaamste wil wees, moet jy agter almal inval en almal se dienaar wees.”

Les 2.  Sukses bepaal nie jou identiteit nie. Breek met selfsug.
Mark 10 17 Toe Jesus weer op pad was, hardloop iemand Hom tegemoet, val voor Hom op sy knieë en vra Hom: “Goeie leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”
21 Jesus het hom aandagtig aangekyk en liefgekry. “Jy kom net een iets kort,” het Hy vir hom gesê. “Gaan verkoop alles wat jy het en gee die geld vir die armes. Dan sal jy ’n skat in die hemel hê. Kom dan en word my volgeling.”
22 Hy was heeltemal verslae en het ontsteld weggegaan, want hy het baie besittings gehad.

Les 3.  Die koninkryk van God is anders: Leierskap is om te dien en nie gedien te word nie.
Mark 10: 43 Maar onder julle moet dit heeltemal anders wees. Wie onder julle ’n leier wil wees, behoort almal te dien. 44 En wie eerste onder julle wil wees, moet almal se slaaf wees. 45 Selfs Ek, die Seun van die Mens, het immers nie gekom om gedien te word nie, maar om diens te lewer en so selfs my lewe te gee as ’n losprys vir baie mense.”

Jesus stel die voorbeeld.
Jesus het gekom om te dien.

Mark 1: 38 Jesus het egter geantwoord: “Ons moet ook nog verder gaan na die omliggende dorpe sodat Ek ook daar kan preek. Dit is immers waarvoor Ek gekom het.”

Hy assosieer Hom met mense wat dit die minste verdien.

Mark 2 13 Jesus het toe weer na die strand toe gegaan. ’n Hele skare mense het na Hom toe gekom, en Hy was besig om hulle te onderrig. 14 Terwyl Hy aanstap, sien Hy vir Levi, die seun van Alfeus, by die tolhokkie sit en Hy sê vir hom: “Kom, word my dissipel.” Hy het opgestaan en ’n dissipel van Jesus geword.
15 Levi het Jesus en sy dissipels genooi om saam met sy medetollenaars en ander berugte sondaars by hom te kom eet. (Daar was baie van hierdie mense wat agter Jesus aan gekom het.)
16 Toe sommige van die skrifkenners uit die geledere van die Fariseërs sien dat Hy saam met sulke berugte sondaars en tollenaars eet, het hulle vir sy dissipels gesê: “Hoe kan julle leermeester saam met sulke immorele karakters eet?”

Jesus spandeer tyd met mense wat in nood is. 

Mark 2:17 Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: “Gesonde mense het die dokter nie nodig nie – die siekes wel. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars.”

Die Storie van die Sabbat.

Ten spyte van die reaksie (of wat ander sal dink) beweeg Jesus buite die gemaksone om die nood van een persoon aan te spreek.

Mark 3:1 Jesus het weer na die sinagoge toe gegaan. Daar was ’n man met ’n misvormde hand.
2 Omdat dit op die Sabbat was, het Jesus se vyande Hom fyn dopgehou. Sou Hy die man se hand op die Sabbat gesond maak? Indien wel, sou hulle Hom kon aankla
 4 Daarna sê Hy vir sy teenstanders: “Mag ’n mens goeddoen op die Sabbat of kwaad? Is hierdie dag bedoel om ’n lewe te red of te vernietig?” Maar hulle wou Hom nie antwoord nie.
5 Terwyl hulle so rondom Hom staan, het Hy hulle die een na die ander met verontwaardiging aangekyk, diep bedroef oor die gevoelloosheid van hulle harte. Toe sê Hy vir die man: “Steek uit jou hand.” Hy het dit uitgesteek, en sy hand het gesond geword. 6 Dadelik het die Fariseërs uitgegaan en saam met Herodes se ondersteuners gaan beplan hoe hulle Jesus gaan doodmaak.

Jesus wil betrokke raak in ons elke dag lewe. 

Mark 16:20 Die dissipels het toe die Goeie Nuus oral gaan verkondig, en die Here het saam met hulle gewerk en hulle boodskap bevestig deur die wondertekens wat daarmee gepaardgegaan het.
Jesus is vandag nog in, en om ons aan die werk om ons te dien.

No comments:

Post a Comment