Saturday, April 28, 2018

RE:ACTS - Staan vir waarin jy glo!



RE:ACTS
Staan vir waarin jy glo!

Ons gesels vandag verder oor die boek Handelinge, en gaan spesifiek bietjie kyk na die volgende paar vrae:
1. Waarvoor staan jy?
2. Is dit waarvoor jy staan die waarheid?
3. Wat is die waarheid?
4. Staan jy op so ‘n manier dat God se koninkryk uitgebrei word daardeur?

As ons die vraag vra: “Waarvoor staan jy?” weet ek daar is verskillende goed wat in elke van ons passievol is en waarvoor ons bereid is om op te staan. Party van ons staan op vir Gratis Opvoeding, Minimum Loon of Mense Handel. Party staan op vir baie meer basiese behoeftes soos goeie koffie by die kantoor!

In Handelinge lees ons die mees ongelooflike stories van die dissipels wat opgestaan het vir waarin hulle glo.

Na die uitstorting van die Heilige Gees in Handelinge 1, het die volgelinge van Jesus onverskrokke opgestaan vir dit waarin hulle glo. Tot so ‘n mate dat hulle telke male in hegtenis geneem is daarvoor. Hoe meer die apostels opgestaan het waarvoor hulle glo, hoe meer mense het tot bekering gekom, maar ook hoe kwater het die Fariseërs en Sadduseërs geword.

Ons lees o.a. in Handelinge 4 waar Petrus en Johannes beveel word om op te hou om die Evangelie te verkondig:
Hand 4:18-21
(18)  En hulle het hul geroep en hulle bevel gegee om in die geheel nie in die Naam van Jesus te spreek of te leer nie.
(19)  Toe antwoord Petrus en Johannes en sê vir hulle: Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis;
(20)  want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie.
(21)  En nadat hulle nog dreigemente bygevoeg het, aangesien hulle geen rede kon vind om hulle te straf nie, het hulle ter wille van die volk hulle losgelaat, want almal het God verheerlik oor wat gebeur het.

So word hulle vrygelaat met ‘n waarskuwing om op te hou preek. Hulle gaan egter aan, en dit lei tot hulle in hegtenis name. ‘n Engel van die Here het die hek van die tronk oopgemaak, net vir hulle om aan te gaan om die Evangelie te verkondig. ‘n Derde keer word hulle voor die Joodse Raad gedaag en hulle word erg met swepe geslaan! Wat was hulle reaksie?

That convinced them. They called the apostles back in. After giving them a thorough whipping, they warned them not to speak in Jesus’ name and sent them off. The apostles went out of the High Council overjoyed because they had been given the honor of being dishonored on account of the Name. Every day they were in the Temple and homes, teaching and preaching Christ Jesus, not letting up for a minute.
Acts 5:40‭-‬42 MSG.‬

Wanneer jy oor Christus en Sy Evangelie dink. Is dit iets wat jou passievol maak. Is dit iets wat waarvoor jy opstaan? Is dit iets waaroor jy opgewonde raak, ten spyte daarvan dat jy miskien moeilikheid kry daaroor? Weet die mense by jou werk waarvoor jy staan? Weet jou gesin waarvoor jy staan?

Die feit dat die apostels net onverskrokke aangehou het om die Evangelie te verkondig, het daartoe gelei dat daar massiewe groei in die kerk plaasgevind het. Tot so ‘n mate dat dissipels nie meer alleen al die werk kon doen nie, en hulle mense aangestel het om hulle te help. Dit was die eerste ouderlinge van die kerk.

Een van daardie ouderlinge se naam was Stefanus. Kort voor lank bevind Stefanus hom ook voor die Joodse Raad as gevolg van sy radikale verkondiging van die Evangelie.

As all those who sat on the High Council looked at Stephen, they found they couldn’t take their eyes off him—his face was like the face of an angel!
Acts 6:15 MSG

Toe hy aangekla word, word daar mense geplant om leuens oor hom te verkondig. Toe hy die geleentheid gegee word om iets te sê, verdedig hy homself glad nie, maar gebruik daardie geleentheid om basies die hele Ou Testament in een preek vir hulle te preek. Hy is so passievol daaroor dat hy nie omgee oor sy eie reputasie of die gevolge daarvan nie.

Die gevolg hiervan is dat hy met geweld na buite die stad gesleep word en daar gestenig word, wat van hom die eerste martelaar maak.

Ek vra weer. Hoe passievol is jy oor dit wat jy Christus in jou lewe gesien doen het? Is dit belangriker in jou lewe as om jou eie reputasie te beskerm?

Hier  kry ons vir die eerste keer te doen met Saulus, wat toesig gehou het oor Stephanus se steniging.
Vandaar af word Saulus een van die Christene se grootste vyande.

And Saul just went wild, devastating the church, entering house after house after house, dragging men and women off to jail. Forced to leave home base, the followers of Jesus all became missionaries. Wherever they were scattered, they preached the Message about Jesus. 
Acts 8:3‭-‬5 MSG

Saulus was ook baie passievol en het opgestaan vir dit waarin hy geglo het. Maar dit waarin hy geglo het, was nie die waarheid nie en het baie skade aan die Koninkryk van God en sy kerk gedoen.

Wanneer laas het jy ‘n bietjie gestop om te evalueer of dit waaroor jy so sterk voel, dit waarvoor jy staan, of dit werklik die waarheid is. Partykeer glo ons iets al vir so lankal, dat ons nie meer weet hoekom ons dit glo nie. Wil jy nie ‘n bietjie tyd spandeer om te dink oor hoe jy dink nie, waarvoor jy staan nie. Miskien veg jy so hard vir iets, wat eintlik teen God se hart en plan vir jou lewe is.

Saulus, op pad na Damaskus, om nog Christene te gaan vervolg, het ‘n dramatiese ontmoeting met God, wat hom vir drie dae blind laat. God stuur vir Ananias om vir Saulus in Reguit Straat te ontmoet, waar hy vir hom bid. Daar val daar skubbe van sy oë af, hy word vervul met die Heilige Gees en God se waarheid, die werklike waarheid, word daar sy waarheid. God verander sy hele lewe in ‘n oomblik en verander ook sy naam na Paulus.

Miskien sit jy vanoggend hier, en jy voel so verward oor dit wat jy nog altyd geglo het. Dalk voel jy vanoggend onseker oor dit wat jy nog altyd aan vasgehou het. Wil jy nie vanoggend die Here ‘n kans gee om Sy waarheid, jou waarheid te maak nie? Wil jy nie vanoggend die Here vertrou vir ‘n Damaskus ervaring nie?

Daarna is Paulus gedoop en het hy met nog ‘n groter passie as waarmee hy die Christene vervolg het, het hy begin om die evangelie te verkondig.

In ‘n laaste storie uit Handelinge 17, sien ons hoe die Here vir Paulus wysheid gegee het, hoe om op so ‘n manier op te staan vir waarin hy glo, dat hy by mense se harte uitkom.

Paulus kom in Athene aan en die Bybel sê hy het so kwaad geword toe hy al die afgode sien. In die verlede sou hy losgetrek het en vir hulle vertel het hoe verkeerd dit van hulle was om soveel gode te aanbid.

Maar die Here gee vir hom wysheid, en toe hy die geleentheid het om met hulle te praat, gee hy erkenning aan die feit dat hulle baie godsdienstig is en hy vind ‘n aanknopingspunt. Hy het verstaan hoe hulle dink en het moeite gedoen om iets van hulle kultuur te verstaan. Hy gebruik die altar wat gebou is vir “Die Onbekende God” en hy vertel hulle van Jesus, op so ‘n manier dat hulle bereid is om na hom te luister en talle mense het hulle daar tot die Christendom bekeer.

Die kerk en Christene van vandag word so baie daarvan beskuldig dat ons skynheilig en veroordelend is. Miskien het ons nie altyd die wysheid om ons openbaring van die Waarheid van God op so ‘n manier te deel, dat ons by mense se harte uitkom nie. Kan ons die Here vertrou om ons te help, om soos Paulus ‘n strategie te hê wanneer ons die waarheid met mense deel. Kan ons probeer om te luister en ‘n aanknopingspunt te vind. Kan ons, sonder om dadelik ons waarheid te verkondig, dalk eers kyk of ons raakpunte kan kry.

1. Waarvoor staan jy?
2. Is dit waarvoor jy staan die waarheid?
3. Wat is die waarheid?
4. Staan jy op so ‘n manier dat God se koninkryk uitgebrei word daardeur?

No comments:

Post a Comment