Saturday, December 3, 2016

Vir ons - Wonderbaar Raadsman - 4 Desember 2016


VIR ONS
WONDERBAAR RAADSMAN – 4 DESEMBER 2016

Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors (Jes 9:5) 
“Vir ons” – maak hierdie preekreeks nie net ‘n allesomvattende “ons” gedagte nie, maar maak dit ‘n “vir MY” gedagte. Laat God toe om direk in jou lewe in te spreek in hierdie Kersseisoen.
Jesaja gee hierdie profesie ongeveer 700 jaar voor Christus se geboorte. Hoe bevoorreg is ons om te kan leef nadat hierdie profesie in vervulling gekom het!
Ons sien hoe hierdie profesie in Johannes 1 te vervulling kom:
In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie. (Joh 1:1-5)

Ons sien hier hoe Jesus van alle ewigheid af was, maar wat ons baie keer miskyk, is dat Hy ook van alle ewigheid af MENS was. Ons het baie keer die indruk dat Hy eers mens geword het met Sy geboorte, maar in Joh 1:14 lees ons dat Hy vlees geword het.

En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid. (Joh 1:14)

Jesus is kom leef hier op aarde, nie net om ‘n voorbeeld vir ons te wees nie, maar ook om ‘n voorbeeld van ons te wees. Wanneer ons na Jesus en Sy lewe kyk, sien ons presies wat God met ons as mens in gedagte gehad het.
Jesaja begin met: Hy word genoem… Die Hebreeus se woord vir naam is SHEM, dit is ook dieselfde woord wat gebruik word vir Ken, Bekend staan vir, en Reputasie. Vandag kry ons baie mode name, of familie name, maar in die Bybelse tyd veral, het ‘n naam besondere betekenis gedra. Jou naam is geassosieer met wie jy is, wat jou karakter is. Daarom is hierdie profesie so belangrik. Dit voorspel vir ons Wie die Messias sou wees, wat Sy karakter sou wees en wie Hy dan ook in ons lewens wil wees.
Vandag skop ons die reeks af met die verwysing:

WONDERBAAR RAADSMAN:

Wonderbaar, is ‘n baie unieke Hebreeuse woord, wat ongelukkig in vandag se tyd ‘n baie afgewaterde woord geword het. Ons sê maklik is wonderlik, maar in daardie tyd was die woord Wonderbaar (Peile, in Hebreeus) geresserveer vir baie unieke situasies. Dit beteken: Dit waarvoor daar nie woorde is nie, dit wat nie menslik verklaarbaar is nie. Iets wat net deur God gedoen kon word. Byvoorbeeld, toe die Israeliete deur die Rooisee getrek het, is dit beskou as iets Wonderbaars.

Die woord wat in kombinasie met wonderbaar gebruik word, is Raadsman (Yaats). In Engels praat ons van Counselor. Dis soveel meer as dit wat ons vandag ken as iemand met ‘n sielkunde graad wat berading doen. In die Bybelse tyd het slegs die Koning van ‘n land die voorreg gehad om toegang te hê tot raadsmanne/beraders. Dit was die mense wat inspraak gegee het in hoe hy sy land regeer. Dit is ook dieselfde verwysing wat gebruik word vir die Wyse Manne waarvan ons lees met Jesus se geboorte.

Wanneer daardie twee woorde saamgevoeg word, ontstaan daar ‘n baie kragtige konsep: Dit beteken iemand in wie die somtotaal van alle kennis opgesluit lê. Alles wysheid, alle leiding, alle rigting, alle waarheid en alle insig is in hom opgesluit. Hy weet alles en is nooit verkeerd nie. Alle kennis oor die verlede, hede en toekoms is in Hom. Dit is wie Jesus is, en dit is wie Hy in my en jou lewe is.

Nie net weet Hy alles van ons af nie, Hy ken ook ons swakhede, ons vrese, ons pyn. Nie net weet Hy alles van dit af nie, Hy verstaan dit, en Hy gee om.

Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. (Heb 4:15)

Jesus het vlees geword, en het elke versoeking, elke vrees, angstigheid, spanning, kwaad, verwerping, pyn wat jy ook mag beleef, ook aan Sy lyf gevoel. So nie net weet Hy van alles wat jy beleef nie, Hy het eerstehandse kennis daarvan! Hy het dit in Sy lyf gedra

In Lukas 5 lees ons van hoe Jesus na Levi (wat ons vandag ken as die skrywer van die eerste Evangelie Matteus) se huis toe gaan. Levi was ‘n belasting invorderaar en hulle was bekend vir hulle skelmstreke. Saam met hulle in huis was ander tollenaars en sondaars. Jesus se volgelinge was baie ontsteld dat Hy homself openlik met sulke mense assosieer. Hy antwoord hulle op ‘n ongelooflike manier:

En hulle skrifgeleerdes en die Fariseërs het by sy dissipels gemurmureer en gesê: Waarom eet en drink julle saam met die tollenaars en sondaars? En Jesus antwoord en sê vir hulle: Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is. (Luk 5:30-31)

Jesus het juis gekom na mense wat siek en ongesteld is. Hy weet ook vanoggend presies in watter area van jou lewe jy siek en ongesteld is. Nie net het Hy die insig, wysheid en kennis om te weet waar jou uitdagings lê nie, maar Hy is ook die Wonderbare Raadsman in jou lewe wat genoeg omgee om iets daaraan te kan en wil doen. Hy weet of daar fisiese of emosionele pyn by jou is. Hy weet of jy siek is in areas van verhoudings, van finansies, spanning, onvergifnis, bitterheid, kwaad. Hy weet, en Hy weet wat om daarmee te doen. Ek weet ook dat wanneer ons hieroor praat, Hy Sy vinger op daardie area druk en jou bewus maak daarvan.

Ons kyk vinnig na twee baie bekende verhale.

Eestens na die Samaritaanse vrou by die put waarvan ons lees in Johannes 4. Jesus begin met haar gesels en sê vir haar om haar man te gaan roep. Haar reaksie stel die platform vir Jesus om haar te genees.

Jesus sê vir haar: Gaan roep jou man en kom hier. Die vrou antwoord en sê: Ek het nie ‘n man nie. Jesus sê vir haar: Jy het reg gesê: Ek het nie ‘n man nie. (Joh 4:16-17)

Sy is blatant eerlik met Hom en kies om al haar sondes, pyn tekortkoming voor Hom bloot te lê. As sy gekies het om te jok, sou dit heel moontlik die einde van hulle gesprek gewees het. Jesus, as die Wonderbare Raadsman, spreek in haar lewe in en volmaakte genesing vind plaas. Sy gaan daar weg as ‘n vry mens en gaan vertel vir almal wat Jesus vir haar gedoen het.

Die tweede verhaal is die verhaal van die ryk jong man wat ons in Markus 10 lees. Hierdie man kom vra vir Jesus wat hy moet doen om die koninkryk te mag ingaan. Jesus antwoord dat hy alles moet verkoop en hom volg. Het Jesus ‘n problem gehad met die feit dat die jong man baie geld gehad het? Nee, Jesus het geweet dat dit ‘n area is waarin hy genesing nodig gehad het, en omdat Hy homso bitterlik lief het, druk Jesus Sy vinger daarop. Ons lees

En Jesus het hom aangekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: Een ding kom jy kort—gaan verkoop alles wat jy het, en gee dit aan die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê; kom dan hier, neem die kruis op en volg My. Maar hy het treurig geword oor dié woord en bedroef weggegaan, want hy het baie besittings gehad. (Mar 10:21-22)

Hoekom het hy nie kwaad geword en met Jesus daaroor onderhandel nie? Hy het hartseer geword, want hy het geweet Jesus is reg.

Wanneer jy sê ek het areas in my lewe wat ek weet nie gesond is nie en wat genesing nodig het, vra dit eerstens dat jy brutaal eerlik met die Here sal wees en Homs al toelaat om as Wonderbare Raadsman in jou lewe in te spreek. Dis belangrik om te hoor wat Hy daaroor te s En laastens, is dit nodig dat jy dan sal doen wat Hy vir jou sê om te doen. Wanneer jy dokter toe gaan, is dit belangrik dat jy sy instruksies sal volg.

Die Here se hart vir ons is nog altyd dat ons lig en vry sal leef. Hy ken jou, Hy weet wat jy beleef en Hy is lief genoeg vir jou om vir jou genesing te bring in watter area jy dit ookal nodig het.















No comments:

Post a Comment